Luhan Steyn Se Reis Beklemtoon Die Volgende Generasie Wynbedryftalent
Written by: WineLand Media Editor Save to Instapaper
Luhan Steyn het grootgeword tussen die Agterkliphoogtevallei se wingerde en vrugteboorde, waar sy nuuskierigheid oor wat met druiwe ná aflewering gebeur, stadig maar seker in ’n roeping verander het.
Luhan Steyn (24) se reis na die wynbedryf begin sowat 35 km buite Robertson, op ’n plaas waar sy pa, Luther Steyn, met wingerde en steenvrugte boer en druiwe aan die Bonnievale-kelder verskaf. “Dis waar ek my liefde vir die plaas en buitelewe gekry het,” sê hy. As kind het hy gereeld saam kelder toe gegaan om druiwe af te lewer, maar dit was die onbekende wat hom vasgevang het. “Ek het altyd gewonder wat met die druiwe daarna gebeur en hoe die wynmaakproses werk.”
Daardie vroeë nuuskierigheid het op skool momentum gekry. Hy het by die Hoër Landbouskool Boland blootstelling aan wynaktiwiteite in parstye gekry. Tog was dit eers in sy matriekjaar, met ’n pars by Wandsbeck Wines onder leiding van die destydse wynmaker, Tinus le Roux, dat alles in plek begin val het. “Daar het die wyngogga my behoorlik gebyt,” sê Luhan. Tinus het nie net as mentor opgetree nie, maar het hom doelbewus by elke aspek van die proses betrek.
Ná dié ervaring het Luhan besluit om wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.
Vakansies het hy as plaasvoorman by die JK DeWet-plaas gewerk, waar hy spanne moes bestuur en hande vuil gemaak het in die wingerd en kelder. Hier het hy vinnig geleer wyn gaan nie net oor proe en praat nie, maar oor harde werk.
In 2023, het hy die intervarsity-snoeikompetisie gewen. Die deelnemers het nie vooraf geweet waar die kompetisie sou plaasvind nie, maar toe die bussie met al die deelnemers by Boland Landbou stop, het hy geweet hy sal moet uithaal en wys.
Sy professionele reis het in 2024 ’n belangrike draai gemaak toe hy as intern by Neethlingshof aangesluit het. Onder leiding van die hoofwynmaker en 30 Onder 30-alumnus, Mika Engelbrecht, het hy vinnig ontwikkel. “Sy het my baie goed gelei in my rol en nuwe tegnieke in die kelder geleer,” sê hy.
Teen 2025, met ’n graad agter sy naam, is Luhan as assistent-wynmaker by Neethlingshof aangestel. Dis ’n rol wat sy oë oopgemaak het vir alles wat buite die kelder gebeur. “Ek het besef daar gebeur soveel meer agter die skerms as wat ’n mens dink,” sê hy. Die balans tussen administrasie en praktiese werk het hom aanvanklik uitgedaag, maar met Mika se steun het hy geleidelik sy ritme gevind
Nog ’n belangrike mylpaal in Luhan se loopbaan was sy betrokkenheid by die SAWIS-proepaneel. Met Mika se aanmoediging het hy die kursus aan die einde van 2024 voltooi. “Ek het geleer dat dit baie fyn proe en konsentrasie verg om foutiewe wyne raak te proe,” sê hy.
Hoewel sy kennis van wynmaak gegroei het, bly sy benadering steeds gefokus op mense en spanwerk. “Alles kan nie van een persoon afhang nie,” sê hy. “Ons werk almal saam vir een doel – om die beste wyn moontlik te maak.”
Hierdie ingesteldheid dra by tot sy siening van wat ’n wynmaker laat uitstaan. “Dis deursettingsvermoë,” sê hy sonder huiwering. “Om 04:00 in die oggend te begin en eers 20:00 huis toe te gaan vat meer as net liefde vir wyn.”
Luhan is duidelik opgewonde oor die rigting waarin die Suid-Afrikaanse wynbedryf beweeg. Volhoubaarheid en innovasie staan vir hom uit. Hy wys op praktyke soos veganis-wynmaak en die gebruik van hernubare produkte. Hy sien ook hoe wyn al hoe meer ervaringsgedrewe raak, met kelders wat kreatiewe maniere vind om hul stories te vertel en toerisme aan te wakker.
Vir Luhan, is die grootste dryfveer eenvoudig. “Dis die mense,” sê hy. “Nie net my span nie, maar ook die verbruikers. Ek vind soveel plesier daarin as mense ons wyn geniet.” Dit is vir hom bewys dat hul harde werk die moeite werd is.
Blitsvrae
- Rooi, wit of vonkelwyn? Wit.
- Iets of iemand wat jou altyd laat lag? My vriende.
- Wie in die wynwêreld inspireer jou die meeste? Beyers Truter, eienaar en keldermeester van Beyerskloof, en Rico Basson, uitvoerende hoof van South Africa Wine.
- Enige versteekte talente buite die wynbedryf? Ek kan goed kitaar speel.
- Een woord wat die SA wynbedryf beskryf? Passie.
Sosiale media
Instagram: @luhan_steyn
Facebook: Luhan Steyn
LinkedIn: Luhan Steyn
Get new press articles by email
We submit and automate press releases distribution for a range of clients. Our platform brings in automation to 5 social media platforms with engaging hashtags. Our new platform The Pulse, allows premium PR Agencies to have access to our newsletter subscribers.
Latest from
- Growing Calls For Stronger Bereavement Leave Policies In South African Workplaces
- Santam Syndicate 1918 Appoints Sam Geddes As Chief Executive Officer
- AI And Learning Innovation Set To Reshape Africa’s Global Workforce Competitiveness
- Helm Highlights Intellectual Property Risks As Organisations Expand AI Capabilities
- Atlantic Seaboard Buyers See Returns Driven By Asset Selection Not Market Momentum
- Portfolio Committee On Health Marks National Cancer Survivor Day With Renewed Commitment
- News24 And Netwerk24 Introduce All That And Alles For Informed Consumer Choices
- Economic Challenges Intensify As South Africans Confront Higher Prices And Interest Rates
- Helene Joubert Gebruik Kreatiwiteit Om Wyn Vir ’n Nuwe Generasie Te Herdefinieer
- From Limpopo Gardens To Acclaimed Wines For Rising Talent Mosima Mabelebele
- Businesses Urged To Strengthen Compliance Strategies As Economic Crime Evolves
- Elani Nell Bring Kreatiewe Storievertelling Na Die Hart Van Die Wynbedryf
- Johannah Shibe Moloantoa Emerges As A Rising Star In South Africa’s Wine Industry
- Simon Terblanche Se Reis Beklemtoon Die Krag Van Fokus En Deursettingsvermoë
- Hugo Pietersen Se Inspirasieverhaal Beklemtoon Talent Groei En Vasberadenheid
The Pulse Latest Articles
- South African Women Are Missing This Essential Nutrient (May 20, 2026)
- Opinion Piece: Rethinking Performance: Why Behaviour Remains The Missing Link In Evaluation (May 20, 2026)
- 125 Years Of Hansgrohe And The Designers Who Made Axor A Luxury Language (May 19, 2026)
- World Whisky Day: Whisky Lovers Challenged To Stop Saving Their Best Bottles (May 15, 2026)
- Hidden Inefficiencies Are Draining South African Businesses (May 15, 2026)
