01 June 2026 4 min

Elani Nell Bring Kreatiewe Storievertelling Na Die Hart Van Die Wynbedryf

Written by: WineLand Media Editor Save to Instapaper
Elani Nell Bring Kreatiewe Storievertelling Na Die Hart Van Die Wynbedryf

Van ’n kreatiewe kind in Mpumalanga tot ’n bemarkingsleier by een van die Kaap se oudste wynplase, bring Elani Nell haar skerp oog vir visuele storievertelling na die wynwêreld.

Elani Nell (29) se pad na die wynbedryf was nie ’n reguit lyn nie, maar dit is juis wat haar storie so interessant maak. Sy het in Middelburg, Mpumalanga, grootgeword in ’n hegte boeregemeenskap waar haar liefde vir die natuur vroeg gevorm is. “Ek het geweet ek wil nie eendag net agter ’n lessenaar sit nie,” sê sy. Kreatiwiteit was nog altyd deel van haar, iets wat haar eindelik na ’n honneursgraad in inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria geneem het.

Hoewel sy nie deur wingerde omring was nie, het die Kaap van kleins af ’n spesiale plek in haar hart gehad. Sy was sewe toe sy saam met haar gesin die pad van Middelburg na die Kaap aangedurf het vir ’n vakansie, met ’n stop by Blaauwklippen. “Ek onthou hoe ek op die plaaskoets gery het en hoe mooi dit vir my was.” Jare later sou daardie herinnering onverwags weer ’n rol in haar loopbaan speel.

Haar liefde vir die Kaap het gebly en daar was geen twyfel oor waar sy eendag wou werk nie. Op Valentynsdag in 2020 het sy sak en pak in die Kaap aangekom en die pos van handelsmerkontwerper by Lanzerac aanvaar. “Op my eerste dag het ek net van rooi- en witwyn geweet,” sê sy laggend. Tog het sy vinnig geleer, onder leiding van Lanzerac se verkoopsdirekteur, Zia van Rooyen du Toit, en administratiewe bestuurder, Deirdre Cicero, wat haar aan die wynbedryf bekendgestel het.

Ná twee jaar by Lanzerac het sy ’n pos as ontwerper en fotograaf by Lourensford aanvaar. Sy het die kuns bemeester om ’n handelsmerk konsekwent en duidelik oor alle raakpunte te kommunikeer.

Die ondervinding wat sy by Lourensford opgedoen het, het haar pad gebaan na Blaauwklippen as bemarkings- en ontwerpbestuurder. Haar verantwoordelikhede sluit alles in, van handelsmerkriglyne en grafiese ontwerp tot personeelopleiding en gaste-ervarings. “Vir my gaan dit nie net oor die wyn nie, maar oor die storie en ervaring wat die plaas besoekers bied.”

Een van Elani se mees persoonlike projekte by Blaauwklippen was om die koets terug te bring. Sy het agterkom dat die koets waarop sy as kind gery het nie meer daar was nie en het voorgestel dat die embleem weer op die handelsmerk pronk. “Dit is ’n groot deel van Blaauwklippen se geskiedenis en deel van die storie wat ons vir gaste vertel,” sê sy. “Nou kan besoekers die koetse aanskou en lekker foto’s neem.”

Haar akademiese agtergrond vorm steeds die kern van hoe sy projekte aanpak. Met haar HOD, wat sy in die loop van haar studies voltooi het, bring sy die kunsjuffrou in haar na vore wanneer sy jong besoekers by ervarings soos die jaarlikse Paaseierskattejag betrek. Sy kan ook haar liefde vir skryf uitleef deur nuusvrystellings oor Blaauwklippen vir wine.co.za te skryf, ’n vaardigheid wat sy reeds as student by Netwerk24 Die Student ontwikkel het.

Digitale groei was een van haar grootste uitdagings by Blaauwklippen. Sy beskryf die sosiale media toe sy begin het as “die stiefkind”, met ou foto’s wat herhaaldelik gebruik is. Sy het doelbewus ’n vars visuele rigting gekies en gefokus op hoe sy deur ’n foto ’n gevoel en emosie kan oordra. Die strategie het nie net Blaauwklippen se aanlyn betrokkenheid ’n hupstoot gegee nie, maar ook besoekers na die plaas gelok.

Elani beskryf die wynbedryf as ’n “flambojante boom”. “Ons is sterk en selfs deur moeilike tye bly ons staan,” sê sy. “Jaar na jaar blom ons weer.” Sy glo die Suid-Afrikaanse wynbedryf het groot potensiaal, veral as ons meer klem lê op hoe ons ons unieke stories visueel aan die wêreld kan uitbeeld.

Saam met daardie visie is sy gemotiveerd om mense te bereik wat, soos sy, nie in ’n wynomgewing grootgeword het nie. Haar doel is om hulle te inspireer, haar kennis van wyn oor te dra en hulle opgewonde te maak oor wyn. “Want glo my, as jy eers in die wynbedryf werk, wil jy dit vir niks verruil nie,” sê sy.

Blitsvrae

  • Rooi, wit of vonkelwyn? Rooi.
  • Iets of iemand wat jou altyd laat lag? My teddiebeer.
  • Wie in die wynwêreld inspireer jou die meeste? Anzél in die Boland.
  • Enige versteekte talente buite die wynbedryf? Ek kan sing.
  • Een woord wat die SA wynbedryf beskryf? Flambojant.

Sosiale media

Instagram: @elaninell 

Facebook: Elani Nell

Total Words: 747
Published in Press Articles

Press Release Submitted By

MyPressportal

We submit and automate press releases distribution for a range of clients. Our platform brings in automation to 5 social media platforms with engaging hashtags. Our new platform The Pulse, allows premium PR Agencies to have access to our newsletter subscribers.