01 June 2026 4 min

Helene Joubert Gebruik Kreatiwiteit Om Wyn Vir ’n Nuwe Generasie Te Herdefinieer

Written by: WineLand Media Editor Save to Instapaper
Helene Joubert Gebruik Kreatiwiteit Om Wyn Vir ’n Nuwe Generasie Te Herdefinieer

Helene Joubert gebruik kreatiwiteit en strategie om wyn vir ’n nuwe generasie relevant te maak.

Helene Joubert (25) het in Welgemoed naby Kaapstad grootgeword en was op Paarl Gimnasium op skool. Wyn was nog altyd deel van haar lewe.

Haar pa, Schalk Willem Joubert, is die uitvoerende hoof van Pink Valley, Le Chant en Taaibosch Wines en het haar van kleins af meer van die wynwêreld geleer. Haar oupa, Jacobus Andreas Joubert, was op sy beurt ’n wynmaker by Joubert-Tradauw. Sy het grootgeword tussen wynmakers met hul stories wat lank ná ete voortgeduur het. Haar kêrel, Jean van Niekerk, is ook deel van die wynwêreld en haar niggie, Julia Joubert, was verlede jaar ’n 30 Onder 30-alumnus.

Sy het aanvanklik nie gedink sy gaan in die wynbedryf werk nie. Sy het eers onderwys aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar in haar eerste proefjaar in 2020 het sy besef dit is nie die pad wat sy wil volg nie.

Daarna het sy ’n paar los werkies hier en daar gedoen om uit te vind wat haar roeping is. Sy het as au pair in Stellenbosch gewerk, hokkie by St Cyprian’s in Kaapstad afgerig en eindelik deeltyds by Pink Valley Wines betrokke geraak met wynverkope en -proeë. Dit was die keerpunt. “Ek het gesien die verkope begin toeneem en ek het besef ek het die vaardighede om dit te doen,” sê sy.

Kort daarna het ’n geleentheid by Skilpadvlei opgeduik. “My pa se vriend, Willie Joubert, die eienaar en bestuurder van Skilpadvlei, het my gevra om vir hom te kom werk,” sê sy. Die aanbod was aanloklik, maar sy wou haarself eers beter toerus vir ’n rol in bemarking en verkope. Daarna het alles vinnig gebeur. Sy het die Donderdag aansoek gedoen by Vega School vir ’n graad in strategiese handelsmerkkommunikasie, die Vrydag het sy gehoor sy is aanvaar en die Maandag het sy begin klas loop.

Ná haar studies het sy besluit om praktiese ervaring in die bemarkingsbedryf op te doen. Sy het in 2023 as intern in sosiale media by Digital Fox gewerk en daarna by Juno Media, wat deel is van die Joe Public-groep, waar sy gefokus het op mediabeplanning en strategie. Sy het verlede jaar eindelik die skuif na Skilpadvlei gemaak as kommersiële en handelsmerkbestuurder.

“Ek is maar lekker by die diep kant ingegooi,” sê sy. “Ek moes nuwe markte oopmaak, persoonlike proeë aanbied, kelners oplei en baie dinge gelyk hanteer.” Hierdie vinnige tempo en wye verskeidenheid take het haar nie net uitgedaag nie, maar haar ook gevorm om die persoon te wees wat sy vandag is.

Dis duidelik dat mense vir haar sentraal staan. Sy praat maklik oor verhoudings bou en die waarde daarvan om kliënte te ken. Sy geniet dit om mense gemaklik rondom wyn te laat voel en om daardie ervaring persoonlik te maak. Sy geniet dit ook om haar kennis oor te dra, veral wanneer sy personeel oplei. “Dis seker nog die onderwyser in my,” sê sy. En wanneer dit by verkope kom, is sy selfversekerd. “As iemand sê hulle drink nie Sauvignon Blanc nie, sal ek hulle laat proe en selfs oorreed om ’n boks te koop.”

Helene is oortuig die wynbedryf moet verander om jonger verbruikers te bereik. Haar doelwit is om wyn minder intimiderend en meer toeganklik te maak deur jongmense te betrek en op te voed. Sy moedig mense aan om hul groen matcha neer te sit, hul hare los te maak en ’n glas wyn te geniet.

Hoewel haar fokus tans op handelsmerkbou en verkope is, besef sy daar is nog baie om te leer. Sy wil graag nog ’n pars doen en meer tyd in die wingerd deurbring om haar tegniese kennis te verdiep. Haar motivering bly eenvoudig. “Ek wil my pa en my oupa trots maak,” sê sy.

Vir Helene gaan wyn eindelik oor meer as net die produk. Dit gaan oor mense, stories en die gevoel wat jy daarmee skep.

BlitsvraeRooi, wit of vonkelwyn? Rooi. • Iets of iemand wat jou altyd laat lag? The Office. • Wie in die wynwêreld inspireer jou die meeste? My pa, Schalk Willem Joubert. • Enige versteekte talente buite die wynbedryf? Hokkie en ek is baie goed met verrassingsfunksies reël. • Een woord wat die SA wynbedryf beskryf? Passie.

Sosiale media Instagram: @helene_joubert_ Facebook: Helene Joubert LinkedIn: Helene Joubert TikTok: @helenejoubert

Total Words: 724
Published in Press Articles

Press Release Submitted By

MyPressportal

We submit and automate press releases distribution for a range of clients. Our platform brings in automation to 5 social media platforms with engaging hashtags. Our new platform The Pulse, allows premium PR Agencies to have access to our newsletter subscribers.