Skip to content

User Safety - safe

30 September 20265 min
Written by: SA Wine Industry
User Safety - safe

Tydens die Nedbank-mediageleentheid by die onlangse NAMPO Kaap het een boodskap duidelik deurgekom: As ons wil hê herlewingslandbou moet van beperkte aanvaarding na grootskaalse implementering beweeg, sal die gesprek moet verander.

Die oorgang van tradisionele na herlewingslandbou is in wese ’n sakebesluit. Dit verg nuwe toerusting en insette, nuwe vaardighede en ander maniere van boer. In sommige gevalle kan opbrengste aanvanklik daal voordat die voordele van gesonder grond, laer insetkoste en meer veerkragtigheid begin realiseer.

Vir ’n boer wat daagliks die gevolge van weerstoestande, insetpryse, rentekoerse en markdruk moet bestuur, maak dié aanvanklike onsekerheid ’n groot verskil. As die landbousektor ernstig is oor herlewingslandbou, moet ons dus ’n ander vraag vra: Hoe kan ons boere help om die oorgang suksesvol te maak?

Die voordele is daar

Herlewingslandbou hou baie voordele vir boere in, maar die waarde daarvan verskil van plaas tot plaas en hang van elke boerdery se unieke omstandighede af.

Die eerste voordeel is marktoegang. Verbruikers wil toenemend weet waar hulle kos vandaan kom en hoe dit geproduseer word. Terselfdertyd fokus kleinhandelaars en ander deelnemers in die waardeketting al hoe meer op die impak wat hulle voorsieningskettings op die omgewing het. Boere wat kan wys dat hulle verantwoordelike boerderypraktyke volg, sal waarskynlik beter toegang tot markte en nuwe geleenthede hê.

Die tweede voordeel is laer insetkoste. Wanneer boere minder van kunsmis, plaagdoders, brandstof en ander insette van buite afhanklik is, kan dit met verloop van tyd help om koste te verlaag. Dit beteken nie uitgawes gaan oornag aansienlik daal nie, maar dit skep wel die moontlikheid vir meer doeltreffende en weerbare produksiestelsels.

Die derde voordeel is ’n moontlike ekstra bron van inkomste. Wanneer herlewingspraktyke help om koolstofvrystellings te verminder of koolstof uit die atmosfeer te verwyder, kan boere moontlik geld uit koolstofmarkte verdien. Die proses verg wel betroubare data en sertifisering, en dit kan ’n paar jaar neem voordat boere hulle eerste betaling ontvang. Tog is dit ’n geleentheid wat die moeite werd is om te ondersoek.

Laastens is daar weerbaarheid. Boerdery word al hoe meer deur veranderende weerstoestande geraak. Praktyke wat grond gesond hou en water beter benut, help boere om uitdagings soos droogtes en ander klimaatsverwante risiko’s beter te hanteer.

Hierdie voordele is betekenisvol, maar kom nie noodwendig op dieselfde tyd as die oorgangskoste nie. Boere moet dikwels eers die koste van verandering dra voor hulle die vrugte daarvan pluk.

Die oorgang rus nie net op boere se skouers nie

Dit is waar die sogenaamde J-kurwe van die oorgang belangrik is. Die koste en risiko’s kom gewoonlik eerste en die voordele eers heelwat later. ’n Boer kan vandag nuwe praktyke instel en selfs vir ’n tyd lank laer opbrengste lewer. Die voordele, soos laer insetkoste, meer weerbaarheid, nuwe markgeleenthede en ekstra inkomste, volg egter dikwels eers later.

As boere al die aanvanklike risiko’s alleen moet dra, sal minder boere die oorgang maak. Daarom is ondersteuning vanuit die hele waardeketting so belangrik.

Die oorgang na herlewingslandbou gebeur nie oornag nie. Dit verg tyd, doelgerigte belegging en ’n goeie begrip van elke plaas se unieke omstandighede. Boere moet ook die moontlike korttermynimpak op kontantvloei en opbrengste in ag neem. Nedbank bied finansiële oplossings wat boere help om die oorgang suksesvol te bestuur en sterker boerderye vir die toekoms te bou.

Kleinhandelaars en ander rolspelers in die mark kan boere ondersteun met advies, tegniese ondersteuning en beter markttoegang. Hulle kan ook die risiko van die oorgang verminder deur vooraf ooreen te kom om sekere volumes produkte aan te koop. Dit gee boere groter sekerheid oor toekomstige vraag terwyl hulle nuwe herlewingspraktyke begin toepas.

Tegnologie- en insetverskaffers het ook ’n belangrike rol om te speel. Hulle kan boere help om beter sin te maak van inligting oor hul grond, reënval en boerderystelsels. Hulle kan ook die regte produkte en praktyke identifiseer wat die beste by elke boerdery se oorgang pas.

Die regering en bedryfsliggame moet ook saamwerk om dit makliker te maak vir boere om die ondersteuning wat hulle nodig het te kry.

Goeie data is die grondslag van vooruitgang

Een van die belangrikste boodskappe uit die gesprek was dat goeie data ’n sleutelrol in die sukses van herlewingslandbou speel. Betroubare data is noodsaaklik vir toegang tot koolstofmarkte, omdat aansprake oor koolstof deur geloofwaardige bewyse ondersteun moet word. Maar die waarde daarvan strek veel verder.

Goeie data help boere om te bepaal of nuwe praktyke die gewenste resultate lewer. Dit help ook finansierders en kleinhandelaars om boerderye beter te verstaan en vordering met meer vertroue te beoordeel. Boonop help dit boere om ingeligte besluite te neem oor waarin hulle hul tyd, geld en hulpbronne moet belê.

Dit gaan dus nie net daaroor om te bewys dat ’n boerdery volhoubaar is nie. Dit help ook om die boerdery beter te verstaan, belegging aan te moedig en die besigheid toekomsbestand te maak.

Herlewingslandbou is ’n gesamentlike verantwoordelikheid

Herlewingslandbou kan boerderye teen toekomstige uitdagings beskerm en dit meer volhoubaar maak. Maar, as ons wil hê dat meer boere die oorgang moet maak, kan die verantwoordelikheid nie net by hulle lê nie. Die toekoms van herlewingslandbou berus op die steun en samewerking van die hele waardeketting.

Release information

Issued on behalf of

WineLand Media

Media contact

WineLand Media

WineLand Media Editor