Hartstocht-wynmaker Hendrien Vercueil bou praktiese kelder en proelokaal by nuwe plaasbuite Citrusdal met vyf hektaar wingerde in aanleg
Written by: Johannes Richter Save to Instapaper
Hendrien Vercueil het altyd van haar eie kelder gedroom. Teen die einde van 2023 het die geleentheid hom eindelik voorgedoen en sy het ’n stuk grond buite Citrusdal bekom – kompleet met ’n mooi ou plaashuis op.
Hendrien is ’n ervare wynmaker, maar van kelderopsit het sy min geweet. Sy het uit vorige ervarings ’n idee gehad wat sy wil hê, maar dit was die raad van professionele diensverskaffers en familie – soos haar bekwame stiefpa en beskermheer Jeffrey Tierie – wat eindelik hierdie swaar wa deur die drif help trek het. Dit vorm die basis van ‘n nuwe handelsmerk genaamd Hartstocht.
Jy het genoem dat die argitek wat die ontwerpe gedoen het, aanvanklik onseker was oor die gebruik van staal en die spesifieke ontwerp van die vloere. Kan jy uitbrei oor ’n paar praktiese uitdagings in die ontwerp en van jul kelder en proelokaal?
Ek dink nie altyd prakties en realisties nie, so dit was soms ‘n uitdaging om my ‘droom’ prakties te laat sin maak – asook finansieel. Dit was waarskynlik ook ’n groot uitdaging vir die argitek sodat dit realisties sin maak en prakties kan werk, maar steeds visueel aanloklik is vir mense en aandag trek.
Hoe het jy verseker dat die kelder prakties en hanteerbaar sal wees sonder ‘n groot span? Op watter maniere is die kelder rondom jou behoeftes ontwerp?
Porex was fantasties hiermee en baie behulpsaam. Hulle het my gehelp om die uitleg so prakties moontlik te maak, asook masjiene te kies wat eenvoudig maar baie prakties is om te gebruik, sonder om baie mannekrag nodig te hê.
Dis nie ’n baie groot oppervlak met baie spasie nie, maar daar is genoeg ruimte vir alles. Die spasie is regtig goed beplan sodat alles eenvoudig en prakties is – alles lê op een vlak.
Hoe het jou stiefpa, Jeffrey Tierie, se raad om alles stelselmatig en “volgens die boek” te doen jou gehelp?
Daar is definitief ’n voordeel daaraan om alles nougeset te doen; dan weet jy dit is reg en daar kan nie later probleme opduik nie, of ten minste dat jy alles in jou vermoë gedoen het om probleme uit te skakel en te elimineer.
Dit neem baie druk van jou af, en hoewel dit ook frustrerend kan wees dat alles langer vat, besef ek dit is 100% die wag werd.
Hoe gaan Hartstocht die persoonlike benadering van gasvryheid en toerisme kombineer met die logistiek en praktiese take van wingerdbou en wynmaak?
Ek glo baie in ’n hands on benadering – om betrokke te wees by daaglikse take en, baie belangrik, om ’n goeie en sterk span agter jou te hê. Dit is onmoontlik om alles self te doen, alhoewel ek soms daarmee sukkel, aangesien ek geneig is om alles self te wil doen, besef ek ook dit gaan nie moontlik wees nie. ’n Sterk, goed-opgeleide span kan net bydra tot die sukses van jou besigheid.
Watter impak sal dit op jou wynmaak hê wanneer jou eie vyf hektaar nuutgeplante wingerde oor ’n paar jaar in volle produksie kom?
Dit is vir my die lekker deel van wynmaak – elke jaar en elke pars bring nuwe uitdagings en raaisels wat jy as wynmaker moet oplos. Dit hou dinge interessant en uitdagend.
Ek hoop natuurlik vir baie goeie kwaliteit druiwe vanaf Hartstocht self, en dit sal die volgende avontuur wees om wyn te maak van ons eie druiwe. Ek sien uit na die uitdaging en is baie nuuskierig om te sien hoe die stokke dra, watter kwaliteit druiwe hulle gaan lewer, en hoe hulle gaan ontwikkel.
Jy maak reeds ’n Chardonnay, Shiraz en Grenache Noir, met Tempranillo op pad. Met watter ander kultivars sal jy in die toekoms ook graag mee wil werk?
Ek sal ook graag met Sauvignon Blanc, Pinotage en Cabernet Sauvignon wil werk – om net ’n paar te noem.
Get new press articles by email
PressPortal helps businesses and PR agencies distribute press releases efficiently across the Southern African media landscape. We manage press release submissions for a diverse range of clients, combining professional distribution with smart automation to extend the reach of every story. Our platform automatically shares published press releases across five social media platforms, supported by re... Read More
